In die gewone loop van sake word bates wat deur belastingbetalers gebruik word om hul besigheid te bedryf, oor ’n aantal jare in die vorm van rekeningkundige depresiasie afwaarts gewaardeer. Die Inkomstebelastingwet[1] maak dan ook voorsiening daarvoor dat bates oor ’n periode van tyd vir belastingdoeleindes afwaarts waardeer kan word, welke slytasieverwante vermindering in waarde jaarliks as ’n slytasiekorting teen belasbare inkomste geëis kan word. Hierdie kortings word toegestaan kragtens ’n aantal bepalings, afhangende van die relevante aard en die doel waarvoor die betrokke bates gebruik word[2].

Die Inkomstebelastingwet maak voorsiening dat hierdie kortings later omgekeer kan word sou hulle verhaal word. Met ander woorde, waar ’n korting wat vir belastingdoeleindes geëis is later verhaal kan word, byvoorbeeld deur die verkoop van die bate, die kortings wat voorheen toegestaan is ten opsigte van die bate wat nou van die hand gesit is, in ’n sekere mate omgekeer kan word.

Neem as voorbeeld die afleweringsvoertuig van Maatskappy A. Dit word vir belastingdoeleindes oor ’n tydperk van vyf jaar af gewaardeer, en kortings geëis ten opsigte van die voertuig (wat die maatskappy aanvanklik R150 000 gekos het) beloop R30 000 per jaar. Aan die einde van die derde verjaardag van die verkryging van die voertuig het Maatskappy A reeds kortings ter waarde van R90 000 teen die koste van die voertuig geëis en is die oorblywende belastingwaarde van die voertuig dus R60 000. Sou die voertuig op daardie stadium verkoop word vir ’n bedrag van R150 000 sal die maatskappy prakties die volle R90 000 wat oor die laaste drie jaar as kortings geëis is, verhaal het. Eweneens sou ’n verkoop teen R70 000 aanleiding gee tot die verhaling van slegs R10 000.

Enige verhaling is ingesluit in die belasbare inkomste van die belastingbetaler en word belas op inkomstebelastingrekening; prakties is dit ’n herroeping van kortings wat voorheen toegestaan is.

Vanuit ’n kapitaalwinsbelasting-perspektief word die basiskoste van ’n bate verminder wanneer kortings jaarliks geëis word op die slytasie van die bate.[3] Op die verkoopstadium, dus, deur Maatskappy A hierbo, sal die afleweringsvoertuig in die voorbeeld slegs ’n basiskoste van R60 000 hê. Sou verkoop teen ’n groter waarde as dit dan nie aanleiding gee tot dubbelbelasting, met ander woorde op beide kapitaalwinsbelasting en inkomstebelastingrekening nie? Skedule Agt van die Inkomstebelastingwet hou hiermee rekening: in die mate dat ’n bedrag ontvang word vir die verkoop van ’n bate en hierdie bedrag reeds ingesluit is in die belasbare inkomste van die belastingbetaler, word die opbrengs vir die doeleindes van kapitaalwinsbelasting dienooreenkomstig verminder.[4] As die afleweringsvoertuig dus vir R70 000 verkoop word sal ’n verhaling van R10 000 erken word (en teen inkomstebelastingrekening belas word) maar met die opbrengs (R70 000 minus R10 000) wat dan gelykstaande is aan die basiskoste van R60 000 gee dit aanleiding daartoe dat geen wins vir kapitaalwinsbelasting erken sal word nie.

Wat uit die voorgaande na vore kom is dat die verkoop van depresieerbare bates aanleiding mag gee tot belastinggevolge anders as kapitaalwinsbelastingresultate. Hoewel dubbelbelasting nie voorkom nie kan strenger belastinggevolge voorkom as wat die geval sou gewees het met kapitaalwinsbelasting-gevolge. Laasgenoemde is wat baie belastingbetalers verkeerdelik aanneem as die enigste gevolge van die verkoop van enige bates, depresieerbaar al dan nie.

[1] 58 van 1962

[2] Kortings word tipies geëis kragtens artikels  11(e), 11D, 12B tot 12F

[3] Paragraaf 20(3)(a) van die Agtste Skedule van die Inkomstebelastingwet

[4] Paragraaf 35(3)(a)

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Print Friendly, PDF & Email