Tag: SAID (page 1 of 2)

EMP501-Rekonsiliasies

Die aanvangsdatum van die 2019-seisoen vir indiening van die jaarlikse EMP501-rekonsiliasies is deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uitgestel vanaf 1 April na 17 April 2019. Die rede vir hierdie verandering word toegeskryf aan opdaterings deur die SAID aan hul bestaande stelsels.

Die sperdatum vir indiening van bostaande rekonsiliasie, sowel as die Opgawe van Verdienste (“Return of Earnings”) (W.As 8) is 31 Mei 2019.  Die boetes vir laat indiening is as volg:

  • die nie-indiening of laat indiening van die EMP501-rekonsiliasie kan lei tot ’n 10% boete van die belastingjaar se werknemersbelastingaanspreeklikheid; en
  • die laat indiening van die W.As 8 2018 Opgawe van Verdienste by die Departement van Arbeid kan 10% van die aanslag bedrag beloop.

Daar word voorgestel om gebruik te maak van elektroniese salarisregisters wat jou in staat stel om onderliggende waardes van doeltreffendheid en betroubaarheid behoorlik te handhaaf en sodoende te verseker dat akkurate inligting aan die SAID en die Departement van Arbeid betyds voorsien word om enige boetes te vermy.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

EMP501-rekonsiliasies

Die aanvangsdatum van die 2019-seisoen vir indiening van die jaarlikse EMP501-rekonsiliasies is deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uitgestel vanaf 1 April na 17 April 2019. Die rede vir hierdie verandering word toegeskryf aan opdaterings deur die SAID aan hul bestaande stelsels.

Die sperdatum vir indiening van bostaande rekonsiliasie, sowel as die Opgawe van Verdienste (“Return of Earnings”) (W.As 8) is 31 Mei 2019.  Die boetes vir laat indiening is as volg:

  • die nie-indiening of laat indiening van die EMP501-rekonsiliasie kan lei tot ’n 10% boete van die belastingjaar se werknemersbelastingaanspreeklikheid; en
  • die laat indiening van die W.As 8 2018 Opgawe van Verdienste by die Departement van Arbeid kan 10% van die aanslag bedrag beloop.

Daar word voorgestel om gebruik te maak van elektroniese salarisregisters wat jou in staat stel om onderliggende waardes van doeltreffendheid en betroubaarheid behoorlik te handhaaf en sodoende te verseker dat akkurate inligting aan die SAID en die Departement van Arbeid betyds voorsien word om enige boetes te vermy.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

NUWE INDIENINGVEREISTES VIR INSOLVENTE BELASTINGBETALERS

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“die SAID”) het onlangs nuwe prosedures uiteengesit met betrekking tot die proses rondom die indiening van inkomstebelastingopgawes wat verband hou met insolvensie. Die verstekposisie is dat waar die boedel van ’n persoon gesekwestreer word, moet ’n afsonderlike opgawe ingedien word vir die tydperk wat begin op die eerste dag van daardie jaar van aanslag en eindig op die datum wat die datum van sekwestrasie voorafgaan. ’n Verdere opgawe word benodig vir die tydperk wat begin op die datum van sekwestrasie en eindig op die laaste dag van daardie jaar van aanslag (en daaropvolgende jare van aanslag totdat die boedel uiteindelik gelikwideer is). In wese is dus drie afsonderlike belastingbetalers aanspreeklik vir belasting, naamlik:

  • Die insolvente persoon vir die tydperk voor insolvensie (dit wil sê, tot die datum wat die datum van sekwestrasie voorafgaan);
  • Die insolvente boedel (’n nuwe entiteit vir belastingdoeleindes vanaf die datum van sekwestrasie); en
  • Die insolvente persoon vir die tydperk op en na die datum van sekwestrasie.

Die SAID dui aan dat die nuwe vereistes: “in lyn is met die strategiese doelwitte van die SAID, verhoogde belastingaanspreeklikheid en die toenemende gerief en billikheid rakende die doen van sake met die SAID, en om aan wetlike vereistes te voldoen, is veranderinge aan die huidige prosesse nodig ten opsigte van registrasie, instandhouding en die bestuur van die status van ’n insolvente individu en boedel”.

Vanaf 25 Januarie 2019 moet individuele belastingbetalers wat vrywillig of verpligtend gesekwestreer word, inkomstebelastingopgawes op die volgende wyse indien:

  • Insolvente individu – Die belastingverwysingsnommer wat voor sekwestrasie gebruik is, sal gesluit wees en kan nie voortaan meer gebruik word nie. Enige inkomstebelastingopgawes wat uitstaande is voor die datum van sekwestrasie, moet ingedien word deur gebruik te maak van die inkomstebelastingverwysingsnommer wat gebruik is voordat u insolvent verklaar is;
  • Insolvente boedel – Die trustee van ’n insolvente boedel moet aansoek doen om ’n belastingverwysingsnommer vir die insolvente boedel. Die nuwe belastingverwysingsnommer sal dan gebruik word vir enige interaksies met die SAID vanaf die datum van sekwestrasie tot aan die einde van die laaste dag van daardie jaar van aanslag; en
  • Individu na-insolvensie – U moet aansoek doen vir ’n nuwe inkomstebelastingverwysingsnommer sodra u insolvent verklaar is ten einde met die SAID te kommunikeer ten opsigte van belasting waarvoor u aanspreeklik mag wees en opgawes wat u moet indien.

Die boedel van die persoon voor sekwestrasie en die persoon se insolvente boedel word egter geag een en dieselfde persoon vir sekere doeleindes te wees, byvoorbeeld die bepaling van die aftrekkings en kortings waarop die insolvente boedel geregtig is en die bepaling van ’n belasbare kapitaalwins of aangeslane kapitaalverlies in die insolvente boedel. Dit beteken ook dat daar geen beskikking vir kapitaalwinsbelastingdoeleindes is wanneer die bates van die insolvente persoon na die insolvente boedel oorgedra word nie.

Soos blyk uit bogenoemde, is die belastinghantering (beide wesenlik en prosedureel) van insolvensie ingewikkeld, en belastingbetalers word aangeraai om professionele bystand te kry wanneer hulle hul belastingsake tydens insolvensie hanteer.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

ARTIKEL 24C TOEKOMSTIGE UITGAWES

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”) het op 10 Januarie 2019 ’n bindende privaatbeslissing (“BPR 315”) in ooreenstemming met artikels 78(1) en 87(2) van die Wet op Belastingadministrasie[1], uitgereik. Hierdie beslissing bepaal die toepassing van die definisie van “toekomstige uitgawes” in artikel 24C (1) van die Wet op Inkomstebelasting[2], op ’n kommoditeits-koopooreenkoms.

Die aansoeker (’n inwonende maatskappy) en ’n nie-inwonende bedryfsmaatskappy (Opco) sal ’n tussenmaatskappy-ooreenkoms aangaan vir die verskaffing van koopkrediete verteenwoordigend van hoeveelhede van sekere kommoditeite wat deur Opco gemyn word. Die aansoeker sal op sy beurt hierdie koopkrediete aan die koper (ook ’n nie-inwonende bedryfsmaatskappy) verkoop kragtens ’n 40-jaar koopooreenkoms[3].

Die koper moet ’n voorskot aan die aansoeker betaal vir die verkoop en lewering van die krediete. Geen gedeelte van hierdie betaling sal terugbetaal word nie en die aansoeker moet dit gebruik om die uitgawes wat hy sal aangaan met die nakoming van sy kontraktuele verpligtinge, te finansier.

Die koper sal ook produksiebetalings in kontant maak met die lewering van die krediete. Die koopooreenkoms maak voorsiening vir ’n gedetailleerde berekening van hierdie betalings, met sekere bedrae wat teen die voorskotbedrag gekrediteer moet word. Enige voorskot wat aan die einde van die kontraktermyn oorbly, sal aangewend word as ’n bykomende koopprys vir krediete wat reeds kragtens die kontrak gelewer is.

Aangesien bedrae teen die vroegste van ontvangs of oploping belas word, sal die voorskot in die aansoeker se belasbare inkomste ingesluit word in die jaar wat dit ontvang is.

Artikel 24C bied verligting aan ’n belastingpligtige wat ’n voorskot ingevolge ’n kontrak ontvang het, en wat in die toekoms uitgawes sal aangaan onder daardie kontrak. Die korting kan nie die bedrag ontvang of opgeloop ingevolge die kontrak, oorskry nie en moet in die daaropvolgende jaar bygevoeg word by die belastingpligtige se belasbare inkomste. Die toelae is verder onderworpe aan die Kommissaris[4] se diskresie en belastingbetalers moet die uitgawes wat aangegaan moet word, akkuraat raam om hul verpligtinge ingevolge die spesifieke kontrak na te kom. Dog, ’n berekening wat gegrond is op die verhouding tussen die totale beraamde uitgawe en die beraamde bruto inkomste uit die kontrak (d.w.s die kontrak se bruto winspersentasie) word algemeen aanvaar.

Met hierdie beslissing het die SAID bevestig dat die uitgawes wat aangegaan word om die krediete te bekom, toekomstige uitgawes sal wees soos beoog in artikel 24C (1). Daar is egter nie beslis oor die bepaling van die korting soos beoog in artikel 24C (2) of enige prysing- en oordragprysingsaspekte nie.

[1] No. 28 van 2011.

[2] No. 58 van 1962. Enige verdere verwysings na “artikels” is na die artikels van hierdie Wet.

[3] Die kontrak kan verleng word vir opeenvolgende 10-jaar periodes totdat Opco ophou om te bedryf.

[4] Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”).

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Verskillende rentekoerse in belasting

Die Inkomstebelastingwet[1] bevat definisies vir verskillende rentekoerse. Hierdie rentekoerse dien as die basis vir renteberekeninge in inkomstebelasting in verskillende omstandighede en kan breedweg in drie hoofareas gekategoriseer word. Kennis van die verskil tussen hierdie onderskeie tipes rentekoerse kan ’n wesenlike impak hê op die bedrag rente wat deur belastingbetalers verskuldig of ontvangbaar is, asook die wyse waarop hulle transaksies struktureer, beïnvloed.

Wat is die verskillende tipes rentekoerse en wanneer is hulle van toepassing? SAID onderskei tans tussen twee “voorgeskrewe tariewe” en ’n sogenaamde “amptelike rentekoers”. Die voorgeskrewe tariewe is administratief van aard en van toepassing op belastingskulde, terwyl die amptelike rentekoers meer substantief van aard is en die basislyn bepaal waarteen die billikheid van rentekoerse op transaksies gemeet word.

  • Eerste voorgeskrewe koers: Hierdie is die rentekoers wat van toepassing is op enige belastingskuld deur belastingbetalers aan SAID betaalbaar, of belastingterugbetalings deur SAID aan belastingbetalers verskuldig op grond van suksesvolle appèlle en sekere vertraagde terugbetalings. Die koers word bepaal deur ’n kennisgewing in die Staatskoerant ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur[2]. Sedert 1 Julie 2018, staan ​​hierdie koers op 10% (die hoogste was 19% in 1999!).
  • Tweede voorgeskrewe koers: Hierdie koers is van toepassing op die oorbetaling van voorlopige belasting en is gekoppel aan die eerste voorgeskrewe koers. Ongelukkig is hierdie koers wat slegs in belastingbetalers se guns is, 4 persentasiepunte onder die eerste voorgeskrewe koers, dus tans 6%.
  • Amptelike rentekoers: Die amptelike koers vir Rand-gedenomineerde skuld is gekoppel aan die terugkoopkoers plus 100 basispunte. Die amptelike koers word aangepas aan die begin van die maand wat volg op die maand waarin die Suid-Afrikaanse Reserwebank die terugkoopkoers verander (tans 7,5% sedert 1 April 2018).

Dit is belangrik om daarop te let dat die voorgeskrewe koers tans nog deur die Wet gereguleer word. Daar word al lank voorgestel dat dit gereguleer word ingevolge die Wet op Belastingadministrasie. Die relevante bepalings is reeds in die Wet op Belastingadministrasie vervat, maar die effektiewe datum moet nog bepaal word. Dit lyk egter nie asof dit, ten minste uit ’n waardeperspektief, enige wesenlike impak sal hê nie.

“Rentekoers” in inkomstebelasting kan meer as een betekenis aanneem, afhangende van die spesifieke omstandighede. Dit is dus van kritieke belang dat belastingbetalers eerstens bewus is van watter wetgewing op enige tydstip van toepassing is en tweedens watter tipe rentekoers in hul spesifieke omstandighede van toepassing is.

[1] No 58 van 1962

[2] No 1 van 1999

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

SAID rente op voorlopige belasting

Soos met verskeie ander saketransaksies, trek belasting in sy verskillende vorme ook rente aan, óf betaalbaar deur die belastingbetaler aan die SAID, óf aan die belastingbetaler verskuldig deur die SAID. Benewens om te weet watter van die verskillende SAID-rentekoerse van toepassing is (wat dikwels op sigself ’n uitdaging is), word dit toenemend belangrik om te weet in watter omstandighede rente van toepassing is, asook die relevante inkomstebelastinghantering van daardie rente. Hierdie artikel ondersoek een só ’n scenario: voorlopige belasting.

Oorbetaling van voorlopige belasting

Indien ’n belastingbetaler enige belastingkrediet het (die bedrag waarmee die belasting wat reeds betaal is die berekende belastingaanspreeklikheid oorskry) en daardie krediet R10 000 te bowe gaan, of die belastingbetaler ’n belastingkrediet het en die belasbare inkomste ’n bepaalde bedrag oorskry (R50 000 vir individue en trusts en R20 000 vir maatskappye), verdien die belastingbetaler rente teen die voorgeskrewe koers, naamlik 6% (vergeleke met die 10% wanneer rente aan die SAID betaalbaar is. (Kyk meer besonderhede hieronder).

Daaropvolgende inkomstebelastinghantering

Rente verdien van die SAID sal ingesluit word in die bruto inkomste van ’n belastingbetaler en is dus ten volle belasbaar (onderworpe aan enige jaarlikse rentevrystellings vir natuurlike persone). Alhoewel inkomstebelasting oor die algemeen volgens die beginsels van ontvangs en toevalling werk, bepaal artikel 7E van die Wet spesifiek dat enige rente wat deur die SAID aan ’n belastingbetaler verskuldig is, slegs as toegeval geag sal word op die datum waarop dit betaal is aan (ontvang word deur) ’n belastingbetaler. Alhoewel dit minder wesenlik vir individue is, kan dit lei tot verskille in hantering vir maatskappye en moontlik aanleiding gee tot uitgestelde belasting.

Onderbetaling van voorlopige belasting

As ’n belastingbetaler se normale belastingverpligting enige belastingkrediet oorskry en die belasbare inkomste ’n bepaalde bedrag oorskry (R50 000 vir individue en trusts en R20 000 vir maatskappye), sal rente deur die SAID teen die voorgeskrewe koers gehef word – tans 10%. Rente is ook betaalbaar teen die voorgeskrewe koers van 10% op laat betalings ten opsigte van eerste, tweede en derde voorlopige belastingperiodes.

Daaropvolgende inkomstebelastinghantering

Artikel 23(d) verbied die aftrekking van belasbare inkomste van enige rente betaal kragtens enige wet wat deur die SAID geadministreer word. Daarom sal enige rente wat aan die SAID betaal word, nie aftrekbaar wees vir inkomstebelasting nie. Vermoedelik is dit omdat hierdie rente nie beskou sal word as verkry in die produksie van inkomste of bestee vir die doeleindes van ’n bedryf nie.

Gegewe die wyd-gepubliseerde vertragings van terugbetalings vir verskillende soorte belasting, behoort belastingbetalers hulle rekeningstate van die SAID noukeurig na te gaan om te verseker dat die rente waarop hulle geregtig is ingevolge die verskillende belastingwette, aan hulle betaal is. Belastingbetalers behoort ook deeglik kennis te neem van die sperdatums vir voorlopige belastingbetalings om te verseker dat rente nie op laat betalings of enige onderbetalings aangegaan word nie.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

WAARDASIE VAN VOORKEURAANDELE

Wanneer dit kom by inkomstebelasting, veroorsaak die kwessie van waardasie van aandele dikwels ’n groot mate van onsekerheid, veral waar aandele nie op ’n erkende beurs verhandel word nie. Alhoewel die Agtste Skedule van die Inkomstebelastingwet[1] in paragraaf 31 ’n bietjie leiding gee oor die markwaarde van sekere bates, is die ‘allesinsluitende’ metode die prys wat verkry sou kon word by die verkoop van ’n bate tussen ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper wat op armlengte in die oop mark handel.

Die reëls van kapitaalwinsbelasting bepaal dat persone op die datum van hulle dood geag word hul bates van die hand te sit (behalwe vir ’n beperkte getal uitsluitings) vir ’n bedrag gelykstaande aan die markwaarde van daardie bates. Markwaarde, en hoe dit bepaal moet word, is dus ‘n baie belangrike oorweging.

Die Hoogste Hof van Appèl het onlangs in CSARS v The Executors of Estate Late Sidney Ellerine 2018 ZASCA 39 ‘n bietjie meer leiding gegee oor die waardasie van voorkeuraandele in so ’n geval, deur die regte wat op daardie voorkeuraandele betrekking het, te oorweeg. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het aangevoer dat ten tye van die oorledene se dood hy geregtig was om voorkeuraandele wat hy in ’n maatskappy gehou het, te omskep in gewone aandele en dat die aandele op daardie basis gewaardeer moes word. Dit was ’n belangrike oorweging, aangesien dit die verskil gemaak het tussen die aandele wat ter waarde van R563 miljoen gewaardeer is, teenoor die nominale waarde van R112 000.

Nadat die Belastinghof aanvanklik bevind het dat die oorledene nie geregtig was om die voorkeuraandele in gewone aandele te omskep nie, het die Hoogste Hof van Appèl sekere wysigings wat in die maatskappy se Memorandum van Inkorporasie (soos dit toe was) aangebring is, asook twee spesiale resolusies, oorweeg. Feitelik, op grond van hierdie dokumente, het die hof bevind dat die oorledene inderdaad geregtig was om die voorkeuraandele op die datum van sy dood om te skakel na gewone aandele. Die aandele moes dus op R563 miljoen gewaardeer word, in plaas van R112 000.

Daar is twee belangrike lesse wat uit hierdie uitspraak geleer kan word. Eerstens, die presedent wat geskep is dat waar ‘n persoon die reg het om voorkeuraandele tot gewone aandele te omskep, die voorkeuraandele op daardie basis gewaardeer moet word.

Tweedens moet die ware bedoeling van partye weerspieël word in die bewoording en konstruksie van alle dokumente. Die regspan vir die respondent in die Ellerine-saak het sterk geargumenteer dat ’n doelgerigte en kontekstuele benadering gevolg moet word by die oorweging van die Memorandum van Inkorporasie en spesiale resolusies. Die hof was egter nie oortuig nie en het aangedui dat alhoewel bedoeling belangrik is, die basiese interpretasie gemaak moet word met verwysing na wat opgeteken is. Belastingbetalers word aangemoedig om professionele advies te verkry voor die uitvoering van ooreenkomste om te verseker dat hulle ware bedoeling en die doel waarvoor hulle uitvoering gee aan dokumente, duidelik blyk uit die bewoording wat gebruik word.

Soos  gesien kan word uit die Ellerine-saak kan versuim om dit te doen, baie duur wees.

[1] Nr. 58 van 1962

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

VERANDERINGE AAN SLEGTE SKULD TOELAE

Die meeste Suid-Afrikaanse besighede word een of ander tyd blootgestel aan kredietrisiko in die vorm van slegte skulde. Alhoewel belastingbetalers ongetwyfeld verkies om die skuld te verhaal, bied die Inkomstebelastingwet[1] ’n mate van verligting in gevalle waar skuld sleg of twyfelagtig geword het.

Nie alleen maak Artikel 11(a) voorsiening vir die aftrekking van verliese wat werklik aangegaan is in die produksie van inkomste nie, maar artikel 11(i) en 11(j) is spesifiek gemik op ’n aftrekking of toelaag vir slegte skuld en twyfelagtige skuld onderskeidelik. Hierdie twee bepalings is egter omstrede hoofsaaklik om twee redes. Eerstens is daar geen riglyn in die Wet, of ’n duidelike toets wat in die regspraak gevestig is, vir wanneer ’n skuld net as sleg of “twyfelagtig” beskou word of inderdaad “sleg” geword het nie. Dit is ’n belangrike oorweging aangesien dit bepaal of belastingbetalers ’n permanente volle aftrekking van die bedrag ingevolge artikel 11 (i) kan eis of slegs ’n toelaag kragtens artikel 11(j) kan eis wat weer in belasbare inkomste ingesluit moet word in die daaropvolgende jaar.

Tweedens is die waarde van die toelae wat belastingbetalers kan eis ten opsigte van “twyfelagtige” skuld, ’n geskilpunt tussen belastingbetalers en die SAID. Tradisioneel het belastingbetalers ’n 25%-toelaag ten opsigte van sulke skuld geëis, maar sommige belastingbetalers, veral in die kleinhandel- en ongesekureerde skuldmark, is deur die SAID aangevat oor die redelikheid van die toelae. Onlangs is daar egter ’n poging deur die wetgewer aangewend om sekerheid te verskaf oor die slegteskuldstelsel, ten minste ten opsigte van die tweede waarde van toelaes vir “twyfelagtige” skuld.

Sedert 1 Januarie 2018 kan banke 25% eis van ’n waardedalingsverlies, bereken volgens die Internasionale Finansiële Verslagdoeningstandaarde (IFVS). In die konsep-Wysigingswetsontwerp op Belastingwette 2018, wil die wetgewer hierdie toelaag uitbrei om ander belastingbetalers in te sluit en spesifiek soos volg:

  • Maatskappye wat ingevolge IFVS verslag doen: 25% van die verliestoelaag met betrekking tot waardedaling soos bereken in IFVS 9 (uitgesluit huurkontrak ontvangbare rekenings); en
  • Maatskappye wat nie ingevolge IFVS verslag doen nie: 25% van die nominale waarde van twyfelagtige skuld wat 90 dae agterstallig is.

Alhoewel die voorstel om sekerheid te verskaf verwelkom word, het sommige belastingpraktisyns vertoë tot die Nasionale Tesourie gerig oor die verskil in behandeling van belastingbetalers wat ingevolge IFVS verslag doen, en dié wat dit nie doen nie.

Terwyl IFVS 9 voorsiening maak vir óf ’n algemene óf ’n vereenvoudigde benadering (of ’n kombinasie daarvan) wat oor ’n groep finansiële bates (skulde) toegepas kan word, en wat ook historiese inligting kan oorweeg, sal van belastingbetalers wat nie ingevolge IFVS 9 verslag doen nie verwag word om ’n individuele raming van elke skuld te maak om te bepaal of so ’n skuld agterstallig is vir 90 dae of langer. Dit kan praktiese probleme veroorsaak waar debiteure verskillende voorwaardes het of wanneer betalings verskuldig is (bv. 30 dae na faktuurdatum of 30 dae na staatdatum), veral waar belastingbetalers ’n beduidende getal lae-waarde debiteure het.

Daar word voorgestel dat geen onderskeid getref moet word tussen belastingbetalers wat ingevolge IFVS 9 verslag doen en belastingbetalers wat dit nie doen nie, maar eerder dat die leiding van IFVS 9 gebruik kan word om enige waardedaling te bepaal, selfs vir belastingbetalers wat nie in terme van IFVS 9 rapporteer nie. Dit sal ook enige inkonsekwente behandeling van belastingbetalers uit die weg ruim, afhangende van die finansiële verslagdoeningsraamwerk waaraan hulle onderhewig is. Die voorstel is dus dat enige belastingpligtige wat nie volgens IFVS verslag doen nie kan kies om IFVS 9 toe te pas in die bepaling van sy artikel 11(j)- toelaag. Voorleggings word tans deur die Nasionale Tesourie oorweeg.

[1] 58 van 1962 (“die Wet”)

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

BELASTINGSKULD EN AFBETALINGSOOREENKOMSTE

Om by iemand in die rooi te wees is vir meeste ’n onaangename ervaring, veral as die skuldeiser die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (die SAID) is.

Omstandighede lei egter soms na gevalle waar ’n belastingpligtige agter raak met bedrae wat aan die SAID verskuldig is. Ons ondervind egter dat die SAID se skuldinvorderaars (intern en nuut-aangestelde eksterne agente) al hoe meer aktief uitstaande skuld invorder – grootliks weens die tekorte soos wyd gepubliseer wat tesourie ervaar.

Belastingwetgewing maak voorsiening vir belastingpligtiges om alternatiewe reëlings met die SAID te tref om belastingbetalings uit te stel, af te betaal en selfs in sekere gevalle af te skryf.

Dit is egter belangrik om die SAID vroegtydig en pro-aktief te nader om sulke reëlings te tref.

Meestal is die SAID geneë om afbetalingsterme aan te gaan met belastingpligtiges. Dit stel die belastingbetaler in staat om hul skuld in paaiemente af te betaal. Alle tipe belastingbetalings kan daarvoor aansoek doen, maar dit is ’n vereiste om te kan toon dat die belastingpligtige werklik in ’n posisie is om nie dadelik hul belastings te kan betaal nie.

Die SAID vereis gedetailleerde inligting ten opsigte van die belastingpligtige se finansiële posisie alvorens enige afbetalingsooreenkoms toegestaan sal word al dan nie. Oorweging word geskenk aan die betalingsgeskiedenis van die belastingpligtige, vorige oortredings van die belastingwet asook geldige redes waarom die belastingpligtige nie hul skuld ten volle kan betaal nie.

Belastingpligtiges moet egter in gedagte hou dat die SAID nie deur die ooreenkoms gebind sal wees indien die belastingpligtige nie aan die voorwaardes en terugbetalingsterme van die ooreenkoms gehoorsaam is nie.

In die geval waar die uitstaande aanspreeklikheid minder as R 50 000 is sal die SAID gewoonlik ’n 3-6 maande afbetalingsooreenkoms sonder te veel moeite toestaan. Die aansoek moet redes insluit waarom die skuld nie onmiddellik terugbetaal kan word nie.

In gevalle waar die skuld R 50 000 oorskry moet ’n aantal dokumente en inligting die aansoek vergesel.  Dit sluit in, maar is nie beperk nie, tot:

  • Laaste 6 maande se bankstate;
  • Finansiële state vir die mees onlangse finansiële jaar;
  • Nuutste beskikbare bestuurstate;
  • Kontantvloei-vooruitskatting vir die volgende 12 maande;
  • Motiveringsbrief vir die afbetalingsooreenkoms; en
  • Toepaslike aansoekvorms.

Ons nooi u uit om met ons belastingafdeling in verbinding te tree sou u enige verdere navrae met betrekking tot die afbetaling van u skuld hê.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

WYSIGINGS AAN INKOMSTEBELASTINGOPGAWES VIR MAATSKAPPYE

As deel van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se deurlopende pogings om doeltreffendheid en voldoening te bevorder, is verskeie wysigings op 26 Februarie 2018 aan die jaarlikse inkomstebelastingopgawes vir maatskappye (ITR14) aangebring.

Twee nuwe skedules is op die ITR14 bygevoeg. Eerstens moet maatskappye wat die leerskaptoelae kragtens artikel 12H van die Inkomstebelastingwet[1] wil eis, voortaan besonderhede van hul geregistreerde leerskappe in ’n afsonderlike skedule verskaf. Kragtens hierdie skedule word afsonderlike besonderhede benodig vir leerders met ’n ongeskiktheid en leerders sonder ’n ongeskiktheid, vir beide NKR vlak 1 tot 6 en NKR vlak 7 tot 10. Verder moet die getal leerders en die toelaebedrag vir elk van hierdie groepe voltooi word.

Die tweede skedule het betrekking op beheerde buitelandse maatskappye (BBM’s). Kragtens artikel 72A van die Inkomstebelastingwet moet inwonende maatskappye wat ten minste 10 persent van die deelnameregte in enige BBM besit (anders as indirek deur ’n maatskappy wat inwonend is) ’n opgawe by die SAID indien. Die “ou” IT10B Adobe PDF-skedule is vervang deur ’n vereenvoudigde MS Excel IT10B-skedule wat maatskappye in staat stel om alle BBM-inligting te verklaar in een gekonsolideerde skedule wat as ’n ondersteunende dokument op eFiling opgelaai kan word, ongeag die aantal belange wat ’n maatskappy in BBM’s het. Die nuwe IT10B-skedule moet gebruik word en op eFiling gelaai word vir alle ITR14’s wat vanaf 1 Junie 2018 ingedien word.  Belastingbetalers wat reeds BBM-inligting gebaseer op die ou formaat voltooi het, word hierdeur tegemoetgekom.

Addisionele vereistes vir die verskaffing van inligting is ook ingestel vir groepe maatskappye wat gekonsolideerde finansiële state voorberei. In die toekoms moet maatskappye met filiale ’n volledige groepstruktuur saam met die ITR14 indien. Nuwe vrae met betrekking tot land-vir-land verslagdoeningregulasies is ook bygevoeg. Maatskappye wat aan hierdie regulasies onderhewig is sal die belastingjurisdiksie van die verslagdoenende entiteit vir die multinasionale entiteitsgroep asook die naam van die verslagdoenende entiteit, moet spesifiseer. ’n Aantal addisionele lynitems is ook bygevoeg op die belastingberekenings-gedeelte van die ITR14 ten einde ander wetsamendemente in aanmerking te neem.

’n Voorbeeld van die nuwe ITR14 is op die SAID se webtuiste beskikbaar vir verdere oorweging. Belastingvoldoeningsamptenare van maatskappye behoort hierdie nuwe vereistes sorgvuldig te oorweeg om te verseker dat die toepaslike ITR14 korrek voltooi word en dat die vereiste ondersteunende dokumentasie saam met die ITR14 ingedien word. Maatskappye wat reeds nuwe belastingopgawes op eFiling geskep het maar dit nog nie ingedien het nie, sal ook moet oorweeg in watter mate die wysigings hierdie opgawes sal beïnvloed.

[1] No. 58 van 1962

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Older posts

© 2019 T Roos

Theme by Anders NorenUp ↑