Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”) het op 10 Januarie 2019 ’n bindende privaatbeslissing (“BPR 315”) in ooreenstemming met artikels 78(1) en 87(2) van die Wet op Belastingadministrasie[1], uitgereik. Hierdie beslissing bepaal die toepassing van die definisie van “toekomstige uitgawes” in artikel 24C (1) van die Wet op Inkomstebelasting[2], op ’n kommoditeits-koopooreenkoms.

Die aansoeker (’n inwonende maatskappy) en ’n nie-inwonende bedryfsmaatskappy (Opco) sal ’n tussenmaatskappy-ooreenkoms aangaan vir die verskaffing van koopkrediete verteenwoordigend van hoeveelhede van sekere kommoditeite wat deur Opco gemyn word. Die aansoeker sal op sy beurt hierdie koopkrediete aan die koper (ook ’n nie-inwonende bedryfsmaatskappy) verkoop kragtens ’n 40-jaar koopooreenkoms[3].

Die koper moet ’n voorskot aan die aansoeker betaal vir die verkoop en lewering van die krediete. Geen gedeelte van hierdie betaling sal terugbetaal word nie en die aansoeker moet dit gebruik om die uitgawes wat hy sal aangaan met die nakoming van sy kontraktuele verpligtinge, te finansier.

Die koper sal ook produksiebetalings in kontant maak met die lewering van die krediete. Die koopooreenkoms maak voorsiening vir ’n gedetailleerde berekening van hierdie betalings, met sekere bedrae wat teen die voorskotbedrag gekrediteer moet word. Enige voorskot wat aan die einde van die kontraktermyn oorbly, sal aangewend word as ’n bykomende koopprys vir krediete wat reeds kragtens die kontrak gelewer is.

Aangesien bedrae teen die vroegste van ontvangs of oploping belas word, sal die voorskot in die aansoeker se belasbare inkomste ingesluit word in die jaar wat dit ontvang is.

Artikel 24C bied verligting aan ’n belastingpligtige wat ’n voorskot ingevolge ’n kontrak ontvang het, en wat in die toekoms uitgawes sal aangaan onder daardie kontrak. Die korting kan nie die bedrag ontvang of opgeloop ingevolge die kontrak, oorskry nie en moet in die daaropvolgende jaar bygevoeg word by die belastingpligtige se belasbare inkomste. Die toelae is verder onderworpe aan die Kommissaris[4] se diskresie en belastingbetalers moet die uitgawes wat aangegaan moet word, akkuraat raam om hul verpligtinge ingevolge die spesifieke kontrak na te kom. Dog, ’n berekening wat gegrond is op die verhouding tussen die totale beraamde uitgawe en die beraamde bruto inkomste uit die kontrak (d.w.s die kontrak se bruto winspersentasie) word algemeen aanvaar.

Met hierdie beslissing het die SAID bevestig dat die uitgawes wat aangegaan word om die krediete te bekom, toekomstige uitgawes sal wees soos beoog in artikel 24C (1). Daar is egter nie beslis oor die bepaling van die korting soos beoog in artikel 24C (2) of enige prysing- en oordragprysingsaspekte nie.

[1] No. 28 van 2011.

[2] No. 58 van 1962. Enige verdere verwysings na “artikels” is na die artikels van hierdie Wet.

[3] Die kontrak kan verleng word vir opeenvolgende 10-jaar periodes totdat Opco ophou om te bedryf.

[4] Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”).

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)