‘n Beskouing van die belastinggevolge van rentevrye lenings sal onvolledig wees as dit nie ook in die konteks van rentevrye oorgrens skuldfinansiering beskou word nie. Tipies, wanneer “goedkoop skuld” teëgekom word, is dit in die vorm van lae rente- of rentevrye lenings wat aan verwante partye (of “verbonde persone”, soos gedefinieer) verskaf word weens die niekommersiële aard van sodanige ooreenkoms. Dit is veral die geval vir die uitlener, wat normaalweg baie groter dividende op sy belegging sal ontvang indien hy ekstra kontant op ‘n ander manier aanwend. Weens groepsdoeltreffendheid mag dit egter verkieslik wees vir een groepsmaatskappy om lae rente- of rentevrye finansiering aan ‘n medegroepsmaatskappy te verskaf, veral indien dit ook oor die potensiaal beskik om sekere belastingvoordele te ontsluit.

Een sodanige metode waarop ‘n korporatiewe groep op sy uiteindelike belastingrekening kan bespaar, is om te verseker dat finansiering deur ‘n maatskappy voorsien word wat in ‘n lae belastingbevoegdheidsgebied geleë is, soos Mauritius (wat ‘n korporatiewe belastingkoers van effektief 3% hef). Indien die Mauritiaanse maatskappy kontant aan ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy sou leen, sal die groep verkies om dit teen ‘n baie hoë koers te doen. Dit sal verseker dat die Suid-Afrikaanse maatskappy in staat is om rente af te trek in ‘n korporatiewe belasting-omgewing waar dit ‘n aftrekking van effektief 28% sal skep, terwyl die belastingkoste in Mauritius slegs 3% sal wees.

Waar die Suid-Afrikaanse maatskappy in die posisie is om in besit te wees van die groep se kontantreserwes, sal hulle dus graag geld aan die maatskappy in Mauritius wil leen teen so ‘n lae koers as moontlik. Rente, indien dit gehef word, sal aftrekbaar wees teen ‘n effektiewe 3% in Mauritius (waar die lener geleë is), terwyl rente ontvang in Suid-Afrika teen 28% belas word. Sodanige lening sal dus vir belastingdoeleindes effektief as rentevrye lening gestruktureer word.

Die oordragkoste regime, soos vervat in Afdeling 31 van die Wet op Inkomstebelasting[1], beoog wetgewing teen hierdie belastingvermydingsgedrag. Die bepaling, wat alle oorgrens transaksies aangegaan deur verbonde persone insluit, maar spesifiek ook oorgrens finansiering, bepaal dat in sulke gevalle “… die belasbare inkomste of belasting betaalbaar deur enige oorwoë persoon … wat belastingvoordele verkry … bereken moet word asof daardie transaksie, skema, ooreenkoms of verstandhouding aangegaan is ooreenkomstig die terme en voorwaardes wat sou bestaan indien daardie persone onafhanklike persone was wat oor ‘n afstand handel gedryf het”.

Met ander woorde, die belastinggevolge van oorgrens skuldfinansiering met verbonde persone sal bereken word asof afstandsrentekoerse daaraan gekoppel is. Alhoewel die lening deur die Suid-Afrikaanse maatskappy hierbo aan die Mauritiaanse maatskappy rentevry sou wees in terme van die finansieringsooreenkoms, sal die Suid-Afrikaanse maatskappy egter steeds in Suid-Afrika belas word asof dit rente op afstandsterme ontvang het. Dieselfde sal geld vir die buitensporige koerse wat gehef sou word indien die Suid-Afrikaanse maatskappy die lener was: die SAID sal hierdie koerse afwaarts aanpas om te verseker dat die Suid-Afrikaanse maatskappy nie opgedrewe rentekoste eis nie.

Die gebruik van rentevrye of lae rentelenings as instrument om belastingeffektiwiteit te verhoog, veral in die konteks van ‘n oorgrenstransaksie, moet met omsigtigheid benader word, aangesien dit dikwels sal uitloop op ‘n lomp beplanningsinstrument vir belastingaanspreeklikheid, om dit sagkens te stel.

[1] 58 van 1962

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Print Friendly, PDF & Email