BloksAan die begin van elke jaar neem ons finansiële nuwejaarsvoornemens met die beste bedoelings. Ons is vas van plan om daarby te hou en meer erns met ons finansiële sake te maak. Ons raak egter dikwels verlore omdat ons sukkel om praktiese maniere te vind om die voornemens uit te voer en beheer te neem. Ons het egter ‘n paar idees hieroor.

Deur te kyk na hoe jy kan bespaar op wat jy reeds spandeer en deur getrou vooruit te beplan, kan jy elke jaar meer bespaar.

Kitsoplossings: Waarop kan jy onmiddellik spaar?

Net soos met daardie motorhuis vol gemors kan ‘n deeglike kykie na jou maandelikse begroting en spandeergewoontes vir jou duidelik wys wat jy kan “uitgooi”. Kyk waar jy oordadige spandering op luukse-items kan verminder of waar jy kan bespaar op onvermydelike uitgawes.

‘n Goeie beginpunt is om seker te maak dat jy die laagste moontlike bankkoste betaal. Kan jy by ‘n ander bank ‘n rekening open met goedkoper fooie of kan jy na ‘n eenvoudiger opsie oorskakel indien jy betaal vir dienste wat jy nie gebruik nie? Dit mag selfs moontlik wees om vir beter rentekoerse op jou kredietkaart(e) en huislening te onderhandel. Jy kan ook seker maak of jy nie moontlik kwalifiseer vir laer versekeringspremies nie. Soos jou motor verouder, byvoorbeeld, daal sy markwaarde en kan jy ‘n laer versekeringspremie beding. (Maak egter seker jy behou die nodige dekking!)

Maak seker of jy nie dalk kan bespaar op jou beleggingsfooie nie, want selfs ‘n klein persentasievermindering in jaarlikse beleggingsfooie kan ‘n aansienlike impak op jou uiteindelike beleggingsopbrengste hê.

Laastens moet jy nadink oor hoe gedragsveranderinge tot verdere besparing kan lei. Oorweeg dit om soms van openbare vervoer gebruik te maak ten einde op brandstof- en instandhoudingskoste van jou motor te bespaar, of wend ‘n doelbewuste poging aan om elektrisiteit te bespaar. Jy kan selfs die motorhuis skoonmaak en ‘n rommelverkoping hou!

Dink vooruit

Sodra jy jou maandelikse begroting en spandeergewoontes herevalueer het, kan jy ‘n spaarplan in werking stel. Die beste idee sal wees om jou eie besparingspadkaart te maak. Dink na oor jou spaardoelwitte, korttermyn en langtermyn, en skryf dit neer. Besluit dan hoe lank dit jou behoort te neem om hierdie doelwitte te bereik, en wat ‘n realistiese bedrag is om te spaar om dit reg te kry.

Onthou dat jy die krag van saamgestelde rente tot die maksimum kan ontgin deur vroegtydig te begin belê. Jy kry saamgestelde rente wanneer beleggingsopbrengste verdien word op jou beleggingsbalans – jou aanvanklike beleggingsbedrag en die opbrengste wat jy reeds tot dusver verdien het. Dit beteken dat jou beleggingsopbrengste hul eie winste begin genereer sodat jou belegging vinniger kan groei.

‘n Gereelde debietorder na ‘n effektetrustrekening sal verseker dat jy op ‘n gedissiplineerde en gestruktureerde manier spaar. Hierdie beleggings bied egter die buigsaamheid dat jy jou maandelikse bydraes kan verander of staak sonder penalisasie indien jou persoonlike omstandighede onverwags sou verander.

Benewens die assessering en aanpassing van jou beleggingsportefeulje is dit ook ‘n goeie idee om vooruit te beplan vir die groot aankope wat jy beplan om deur die loop van die jaar te maak. Deur sulke items vooruit te identifiseer en vir ‘n redelike tyd vooraf daarvoor te spaar, sal dit nie vir jou nodig wees om jou aankope met skuld te finansier nie.

Vra as jy hulp benodig

Indien jy nie die tyd of aanleg het om ‘n deeglike finansiële ontleding te doen nie, of indien jy eerder professionele advies wil verkry, raadpleeg jou finansiële adviseur vir bystand hiermee.

‘n Finansiële adviseur kan jou help om te bereken hoeveel jy behoort te spaar met inagneming van jou toekomstige finansiële vereistes, verwagte inflasiekoerse en die rente wat jy moontlik mag genereer. Hulle kan ook raad gee oor die geskiktheid van verskillende produkte en die verwante belasting- en kontraktuele implikasies. Wanneer jou beleggingsportefeulje gevorm word, kan hulle jou van raad bedien rakende toepaslike besluite oor batetoekennings en vergelyking van effektetrusts van verskillende batebestuurders. Sodra jou portefeulje gereed is, kan jou adviseur deurlopende monitering en ondersteuning verskaf om te verseker dat jou beleggings gunstig geposisioneer bly en jou spaarplan op koers bly.

Deur jou beleggings te prioretiseer en gesonde spandeergewoontes te implementeer, kan dit beslis ‘n voorneme wees waarvan jy die voordele in die toekoms sal kan oes. Jy kan hierdie strategieë van jaar tot jaar oordra – die belangrikste is om ‘n begin te maak en die dissipline vol te hou.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Print Friendly, PDF & Email