Entiteite wat hulle aktiwiteite op ’n nie-winsgewende wyse bedryf, kan in sekere omstandighede by die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aansoek doen om as ’n openbare weldaadsorganisasie (OWO) goedgekeur te word ingevolge die Wet op Inkomstebelasting[1]. Een van die vereistes om as ’n OWO te kwalifiseer, is dat die entiteit sy befondsing alleenlik of hoofsaaklik moet gebruik om sy filantropiese aktiwiteite (genoem “openbare weldaadsaktiwiteite”) uit te voer.

Hierdie entiteite is oor die algemeen afhanklik van donasies van die algemene publiek om hulle openbare weldaadsaktiwiteite te finansier. Alhoewel ’n OWO nie verbied word om ander besigheidsprojekte of handelsaktiwiteite aan te gaan om sy inkomste aan te vul nie, sal hy slegs gedeeltelike belastingverligting ten opsigte van sodanige inkomste ontvang, in die mate waarin die projekte of aktiwiteite buite sekere belastingvrye parameters val.

Die vraag ontstaan dus of OWO’s ’n kapitaalfonds mag opbou om te verseker dat hulle tot ’n mate selfonderhoudend word en nie heeltemal afhanklik is van die vrygewigheid van die algemene publiek om hul aktiwiteite te kan verrig op ’n jaar-tot-jaar-basis nie.

Die SAID se belastingvrystellingsgids vir openbare weldaadsorganisasies dui daarop dat slegs oortollige befondsing vir toekomstige gebruik belê kan word. Dit word ondersteun deur spesifieke reëls met betrekking tot die belê en verspreiding van skenkerbefondsing, wat in artikel 18A van die Wet op Inkomstebelasting ingevoer is, maar welke reëls slegs geld vir OWO’s wat befondsing aan ander goedgekeurde organisasies (insluitende OWO’s) verskaf. Alhoewel die SAID toegee dat ’n kapitaalfonds vereis word om ’n volhoubare bron van befondsing vir hierdie spesifieke “OWO-befondsing”-OWO’s te bied, bestaan daar geen spesifieke reëls vir ander “gewone” OWO’s nie. Dit is dus onduidelik in watter mate ander OWO’s toegelaat sal word om hulle skenkersfinansiering te belê en die opbrengs op hierdie beleggings te gebruik vir die bevordering van hulle aktiwiteite.

Ingevolge die belastingvrystellingsgids vir openbare weldaadsorganisasies word die passiewe belegging van surplusfondse in aandele of ’n belegging in ’n finansiële instelling nie normaalweg as ’n besigheidsprojek of handelsaktiwiteit beskou nie. As dit egter op ’n aktiewe wyse onderneem word, soos die toestaan van rentedraende lenings teen markverwante koerse, kan dit as ’n besigheidsprojek beskou word.

Ten slotte: OWO’s moet noukeurig die bepalings van artikels 18A en 30 van die Inkomstebelastingwet oorweeg, asook die toepassing daarvan op die betrokke OWO se spesifieke omstandighede in gevalle waar sodanige OWO’s ’n kapitaalfonds wil opbou.

[1] No. 58 van 1962

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Print Friendly, PDF & Email