Die Sesde Skedule van die Wet op Inkomstebelasting[1] detailleer die werking van die omsetbelastingstelsel wat op mikrobesighede van toepassing is. Omsetbelasting is ’n opsionele stelsel (met voorkeur-belastingkoerse) en is in wese ’n vereenvoudigde belastingstelsel wat beskikbaar is vir mikrobesighede (besighede met ’n kwalifiserende omset van R1 miljoen of minder). Die Sesde Skedule handel oor persone wat kwalifiseer as mikrobesighede (wat natuurlike persone insluit), die toelaatbare aandele en belange wat die mikrobesighede mag besit en wat belasbare omset en uitsluitings daarvan, uitmaak. Alhoewel die stelsel wyd gebruik word, is daar ’n toenemende aantal belastingbetalers vir wie die stelsel nie meer optimaal is nie, en wat wil deregistreer en onderhewig wees aan die “normale belastingstelsel”.

Ingevolge paragraaf 9 van die Sesde Skedule is daar twee gronde waarop ’n persoon vir omsetbelasting gederegistreer kan word:

  1. Vrywillige deregistrasie

Vrywillige deregistrasie vind plaas wanneer die eienaar van ’n geregistreerde mikrobesigheid verkies om onder die “normale belastingstelsel” belas te word en kies om te deregistreer vir die omsetbelastingstelsel. ’n Vrywillige deregistrasie is toelaatbaar indien die belastingpligtige voor of aan die einde van ’n jaar van aanslag (28 of 29 Februarie) skriftelik kennis gee aan die Kommissaris. Deregistrasie sal van krag wees vanaf die begin van die volgende jaar van aanslag. Byvoorbeeld, ’n geregistreerde mikrobesigheid wat gekies het om te deregistreer vir die omsetbelastingstelsel deur op 21 Januarie 2019 ’n kennisgewing by die Kommissaris in te dien, sal met ingang 1 Maart 2019 (dit wil sê die belastingjaar 2020) gederegistreer word. Daar is tans geen voorgeskrewe vorm wat vir die kennisgewing gebruik moet word nie en daar word aanbeveel dat belastingbetalers hul naaste SAID-tak besoek en ’n formele versoek indien om te deregistreer (of hul belastingpraktisyn om hulp nader).

  1. Verpligte deregistrasie

Verpligte deregistrasie sal plaasvind indien ’n geregistreerde mikrobesigheid nie meer kwalifiseer om as sodanig geregistreer te wees nie. Twee faktore kan ’n verpligte deregistrasie noodsaak, naamlik

  1. as die kwalifiserende omset wat deur die mikrobesigheid verkry word uit besigheidsaktiwiteite gedurende ’n jaar van aanslag, die drempel van R1 miljoen oorskry of waarskynlik sal oorskry en die besigheid nie kan aantoon dat dit ’n nominale en tydelike gebeurtenis sal wees nie; of
  2. die persoon gediskwalifiseer word op grond van die bron van sy omset (byvoorbeeld professionele dienste) of die beleggings wat hy het.

’n Geregistreerde mikrobesigheid wat onderhewig is aan verpligte deregistrasie moet die SAID binne 21 dae vanaf die datum waarop dit nie meer as ’n mikrobesigheid kwalifiseer nie, in kennis stel. Versuim om die SAID in kennis te stel kan lei tot boetes wat teen die belastingpligtige gehef word.

Belastingbetalers moet ook onthou dat deregistrasie vir omsetbelasting ander administratiewe vereistes kan hê waaraan aandag gegee moet word, byvoorbeeld heroorweging van sy BTW-posisie, inkomstebelastingposisie, voorlopige belasting en ander nakoming.

[1] No. 58 van 1962

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Print Friendly, PDF & Email