Al hoe meer werkgewers laat gesalarieerde werknemers toe om van die huis af te werk ten einde vermorsing van produktiewe ure terwyl hulle pendel, te vermy. Sodanige werknemers kan ’n tuiskantoor-aftrekking eis (wat toegelaat word ​​onder die afdeling “Ander Aftrekkings” van die persoonlike inkomstebelastingopgawe of ITR12-vorm) indien daar aan sekere streng vereistes voldoen word.

Die aftrekbaarheid van hierdie uitgawes word bepaal deur artikel 11 (veral paragrawe (a), (d) en (e), saamgelees met artikels 23 (b) en 23(m) van die Wet op Inkomstebelasting[1]). Die vereistes van al hierdie bepalings moet nagekom word voordat die betrokke werknemer vir die tuiskantoor-aftrekking kwalifiseer.

In die algemeen moet die werkgewer die werknemer toelaat om van die huis af te werk en moet die werknemer meer as 50% van sy/haar totale werksure van die huis af werk om vir hierdie aftrekking te kwalifiseer. Dit is belangrik om daarop te let dat die werknemer ’n spesifieke area in die huis moet hê wat uitsluitlik vir hierdie doel gebruik word (soos ’n aparte kantoor of studeerkamer) en dat hierdie area spesifiek toegerus moet wees vir die werknemer se ambag (byvoorbeeld ’n werktuigkundige se gereedskap, ’n tekenbord van ’n argitek of toerusting vir ’n dokter se ondersoekkamer). Hierdie vereistes is van toepassing op beide kommissieverdieners (waar meer as 50% van die totale vergoeding kom uit óf die kommissie óf ’n ander veranderlike vorm gebaseer op werkprestasie) en normale gesalarieerde werknemers (met veranderlike betalings wat minder as 50% van sy/haar totale vergoeding uitmaak).

Om die tuiskantoor-aftrekking te bereken moet die werknemer eers die totale vierkante meter oppervlakte van die tuiskantoor in verhouding tot die totale vierkante meter van die huis as ‘n persentasie bereken en hierdie persentasie op die tuiskantoor-uitgawes toepas. Hierdie berekeninge, asook afskrifte van alle relevante fakture, moet deur die werknemer wat hierdie aftrekkings eis bewaar word sou die Suid-Afrikaanse Inkomstediens stawende dokumentasie versoek.

Die tipe uitgawes wat geëis kan word, is onder meer die na verhouding aangepaste aftrekkings gebaseer op huur, die rente van verbandlenings, herstelwerk aan die huis en alle ander uitgawes wat verband hou met die werknemer se huis. Benewens hierdie uitgawes, sluit ander tipiese tuiskantoor-uitgawes telefone, skryfbehoeftes, eiendomsbelasting, en diensgelde, skoonmaak, kantoortoerusting en slytasie, in.

Werknemers wat nie ’n kommissie verdien nie, maar die grootste deel van hul tyd op die pad deurbring om kliënte te besoek en hul pligte hoofsaaklik op hul kliënte se perseel verrig, kwalifiseer gevolglik nie vir die aftrekking van uitgawes vir tuiskantore nie. Alleeneienaars of vryskutwerkers wat van die huis af werk, kan outomaties al die uitgawes vir tuiskantore aftrek en hoef nie aan al die vereistes soos hierbo uiteengesit, te voldoen nie.

Dit is duidelik uit die bogenoemde dat werknemers wat van die huis af werk, deeglik moet oorweeg of hulle aan al die vereistes voldoen ten einde die uitgawes vir tuiskantore te eis.

[1] No.58 van 1962

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Print Friendly, PDF & Email