Suid-Afrika se begroting skets ’n baie interessante prentjie wanneer ’n mens in besonderhede kyk na die syfers wat betrokke is. Die jaarlikse nasionale begroting wat op 21 Februarie in die Parlement deur die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, voorgelê is, is die grootste begroting tot nog toe en maak voorsiening vir gekonsolideerde staatsbesteding in die 2018/2019 fiskale jaar van R1,657,200,000,000!

Verreweg die grootste deel van die begroting sal aangewend word vir maatskaplike dienste in die vorm van onderwys, gesondheidsorg, maatskaplike ontwikkeling en gemeenskapsontwikkeling en infrastruktuur: R1,012.2 biljoen, of 61.08% om presies te wees (2017/2018-begroting: 56.5%). Hiervan sal ’n enorme R528.4 biljoen direk toegewys word aan maatskaplike toelaes, oftewel 31.9% van die totale begroting. ’n Verdere R200.8 biljoen is toegewys aan verdediging en openbare veiligheid en R200.1 biljoen aan landbou en ekonomiese sake. Algemene openbare dienste (departemente soos Tesourie, Buitelandse Sake en die onderskeie wetgewende instellings) sal R64 biljoen ontvang. Dit is verder opmerklik dat 11% van die totale begroting toegewys word aan delging van staatskuld.

Wat inkomste betref bly belasting die Staat se primêre bron van inkomste. Daar is begroot vir die volgende belastinginkomste:

Beskrywing ZAR bn %
Persoonlike inkomstebelasting 505.8 37.6
Korporatiewe inkomstebelasting 231.2 17.2
BTW 348.1 25.9
Doeane en aksyns 97.4 7.2
Brandstofheffings 77.5 5.8
Ander 84.8 6.3
Totaal 1,344.7 100

Dit is nie verrassend nie dat direkte belasting, gedra deur daardie individue wat ekonomies aktief is, steeds die belangrikste bydrae (55%) lewer tot die Regering se beursie.

In die aanloop tot die begrotingstoespraak is daar algemeen berig dat ’n tekort in belastinginkomste van nagenoeg R50.8 biljoen in die lopende fiskale jaar sou voorkom en  dat die Regering kreatief te werk sou moet gaan om hierdie uitdaging vorentoe die hoof te bied. Spesifiek sou daar gekyk moet word na waar belasting verhoog moet word, veral in die lig daarvan dat opsies duidelik aan die verminder is.

Op die ou end was die tekort ietwat minder drasties as wat verwag is: R48.2 biljoen vir die 2017/18 fiskale jaar. Die regering verwag dat hierdie tekort herwin sal word deur opnuut te fokus op  belastingnakoming. Daar word ook gehoop om inkomste uit die verhoogde BTW-koers met R22.9 biljoen te vermeerder en die inkomste uit fiskale sleuring (d.w.s nie-aanpassing van belastingkategorieë vir individue) met R22.9 biljoen. Die nuwe verhoogde belastingkategorie vir boedelbelasting (‘n koers van 25% vir boedels wat meer as R30 miljoen beloop) sal na verwagting slegs R150 miljoen tot die fiskus bydra.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

Print Friendly, PDF & Email